Daniel Coetzee gesels oor sy reis met 'Suidooster' en hoe hy uitdagings takel

Daniel Coetzee gesels oor sy reis met 'Suidooster' en hoe hy uitdagings takel

Die sexy akteur Daniel Coetzee, wat vanaf April deel geword het van die gewilde kykNET-sepie 'Suidooster', is vinnig besig om groot branders te veroorsaak in een van die reeks se huidige storielyne.

Daniel_Coetzee_1
Verskaf/ kykNET

Daniel Coetzee se karakter, 'Riaan, is tans daarop gefokus om die roekelose besigheidsvrou, 'Imelda Davis' (Ilse Klink), se verdagte bedrywighede bloot te lê. En kykers kan nie genoeg van hierdie storielyn kry nie.  

1. Vertel meer van jou ervaring by 'Suidooster' sedert jy vroeër vanjaar deel geword het van die permanente rolverdeling

"Vir my voel dit asof ek huis toe gekom het. Die ander akteurs en die hele produksiespan het my met ope arms verwelkom en ek is opgewonde oor wat hierdie reis vir my inhou.

"Dit is nie net 'n nuwe hoofstuk vir my wat 'Suidooster' betref nie, maar ook een in Kaapstad. Dit voel onwerklik. Dit is inspirerend om te sien hoe die akteurs en produksiespan moeite doen om beide op en weg van die stel, kontak met mekaar te hou. 

"Ek kan soms gesien word as gereserveerd en stillerig, maar dit het hulle nie gekeer om my beter te leer ken nie. Die hele 'Suidooster'-span word gerugsteun deur liefde en dis fassinerend om dit te sien en deel van hierdie familie te wees." 

2. Hoe ervaar jy jou karakter, 'Riaan'? Is daar enige ooreenkomste tussen julle twee? 

"Ek en 'Riaan' is baie dieselfde en terselfdertyd ook heeltemal teenoorgesteldes. Ek kan myself met hom vereenselwig omdat ons altwee baie hardkoppig is, lief vir ons werk is... dalk 'n bietjie té veel, ons is ongemaklike skepsels en bleeksiele, en ons wil net die allerbeste hê vir die mense vir wie ons omgee.

"'Riaan' is eintlik 'n baie interessante karakter om te vertolk omdat hy, anders as die geval met myself, sy mening duidelik lug – en hy is gewoonlik onbewus van die gevolge wat dit vir ander kan inhou.

"Ek bewonder sy dapperheid en die feit dat hy volgens sy waardes en oortuiging leef. Hy's ridderlik en eerbaar, en ek hoop om soveel as wat ek kan van hom in hierdie opsig te leer."

3. Wat was vir jou die uitdagendste toneel wat jy tot nou toe in 'Suidooster' moes speel, en hoe het jy dit oorkom? 

"Beslis 'Riaan' se aanvanklike interaksie met 'Bridgette' en 'Lee-Anne'. Hy het sy eise aan hulle bekend gemaak voordat hy hul projekbestuurder by JPD geword het. 

"Dit was uitdagend omdat beide Denise Newman (Bridgette) en Portia Joel (Lee-Anne) kragtoer-akteurs is en hul teenwoordigheid op die stel was oorweldigend. Ek onthou ek het oor my woorde gestruikel en het so verward geraak dat ek dink my toneelspel by die venster uitgevlieg het. 

"Na wat soos die 50ste skiet van die toneel gevoel het, kon ek danksy die hulp van Ingrid Paulus daarin slaag om 'Riaan' se karakter ten volle te omhels. 

"Ek weet hierdie is nie die moeilikste uitdaging wat ek nog vorentoe in 'Suidooster' gaan ervaar nie, maar wanneer dit aanbreek, sal ek myself daarin herinner dat ek soveel kere staande gebly het voor vrees." 

4. Kan jy 'n snaakse oomblik wat op die stel gebeur het, deel?

"Een van die snaaksste oomblikke vir my was toe ek 'n toneel met 'Stella' (Tova Julius) moes skiet. Ek moes op 'n baie teatrale manier telkemale op 'n rubber-hoender gly, en ek het dit gedoen. 

"Dit was die eerste keer wat 'Riaan' sy tawwe uiterlike laat kraak het. Ek het gegil en deur die lug getrek in slapstick-komediestyl... en glo my, dis nie maklik om sowel realisties as teatraal in die stof te byt nie.

"Ek het wel sleg gevoel vir die kunsdepartement in ag genome al die harde werk wat hulle ingesit om die stel te bou waar ek so rondgeval het. 

"Tog was daar 'n deel hiervan wat nie snaaks was nie, wel, ten minste nie vir my nie. Dit was toe die boks wat 'Riaan' gedra het, teruggevlieg en my getref het. Om voor te gee dat dit nie seergemaak het nie, was ware toneelspel! 

5. Het jy stokperdjies, of wat geniet jy om te doen wanneer jy vrye tyd het?

"Ek het nie juis baie stokperdjies nie, maar ek geniet dit om op verskeie maniere kreatief te wees: skilder, teken, die uitvoer van monoloë en om impressions te doen.  

"Ek geniet dit om die natuur te verken, daarom is Kaapstad soos 'n speelgrond vir my, met eerstes soos om Leeukop uit te klim, om in Clifton te gaan kajak en om robbe te sien.

"Noudat ek hier in Kaapstad is, is daar 'n hele paar stokperdjies wat ek op die proef wil stel, soos branderplankry, snorkel en valskermsweef. Ons sal moet sien of my hoogtevrees my gaan toelaat om valskermsweef te doen, maar ek is vasberade om te probeer!"

Daniel_Coetzee_2
Verskaf/ kykNET

6. Wat is die een ding wat mense nie van jou weet nie, en wat hulle dalk mag verbaas?

"Mense mag dalk verbaas wees as hulle uitvind dat Engels my eerste taal is en wanneer ek praat, sal jy nie dink ek speel in 'n Afrikaanse sepie nie.

 "Ek is ook gek daaroor om impressions te doen, aksente na te boots en klankontwerp vir animasie te skep. Om die waarheid te sê, ek wou aanvanklik 'n stem-akteur geword het toe ek by AFDA Johannesburg studeer het. 

"My lewe lank het ek enige vorm van mondelikse aanbieding gehaat (en ja, ek weet dis ’n baie sterk woord) – toesprake, heildronke, enigiets wat beteken het ek moet voor 'n groep mense praat.

"Maar helaas, tydens my studies was ek forseer om dit te doen. Die ervaring was so bevrydend dat ek ’n liefde vir optredes op die verhoog en voor die skerm ontwikkel het." 

7. Wat is die belangrikste les wat jy geleer het rondom self-sorg en geestesgesondheid?

"Die belangrikste les wat ek rondom geestesgesondheid geleer het, is dat dit 'n persoonlike reis is. Daar behoort geen skaamte of skuldgevoelens te wees wanneer jy jouself eerste stel nie, want dis juis dan wanneer jy die mees outentieke jy is. En jy sal mense aantrek wat op dieselfde golflengte as jy is. Soos Dr. Seuss dit perfek opgesom het: "Those who mind don't matter, and those who matter don't mind."

8. Het jy enige raad vir aspirerende akteurs wat in die televisie-industrie wil beland?

"As dit vir jou bedoel is, sal dit kom. Vertrou op jou instink en vaardighede om jou daar te kry. Ek het soveel keer in my lewe gefaal en dit het lank geneem voordat ek besef het dis nie iets om oor skaam te voel nie.

"Om te faal is die eerlikste refleksie van jou karakter en hoe jy dit hanteer. Dit is belangrik om uit daardie oomblikke te leer want om groei is deel van faal. En eendag, wanneer daar 'n onderhoud met jou gevoer word, het jy ’n storie om te vertel – een van uithouvermoë wat die stryd die moeite werd gemaak het." 

9. Wat is die drie top-dinge op jou emmerskoplysie wat jy nog wil doen?

"My emmerskoplysie is nimmereindigend, maar daar is wel 'n paar. Ek wil my vrees vir hoogtes oorbrug, hetsy deur valskermsweef of rekspronge. Ek wil baie graag gaan duik in 'n haai-hok en diepsee-snorkel doen. Ek wil pen op papier sit en daarmee saam as 'n vervaardiger ’n verhoogproduksie die lig laat sien. 

"Dan wil ek ook teruggee aan 'n saak waaraan ek glo, soos geestesgesondheid of omgewingvolhoubaarheid. 

"Een van my grootste drome is om 'n stem-akteur vir 'n animasie te wees en ook tot die klankontwerp daarvan by te dra. 

"Aan die einde van die dag is my hoofdoelwit selfontwikkeling en ek is gretig om enigiets na te volg wat my gaan help om dit te bereik." 

10. Wat is jou leuse in die lewe, en hoekom?

"Ek het vandat ek 16 was, dieselfde leuse. Tydens ons gr.10-kamp moes ons ’n boodskap aan ons toekomstige self skryf. Die een wat ek nodig gehad het, was: Ek het geleer dat dapperheid nie die afwesigheid van vrees behels het nie, maar dat dit oor vrees getriomfeer het.

""The brave man is not he who does not feel afraid, but he who conquers that fear." – Nelson Mandela. Hierdie aanhaling het tydens die moeilikste tye my bygebly en dit het gehelp om my selfvertroue te versterk. Dit herinner my dat, ongeag hoe uitdagend iets is of hoe bang ek voel, ek het die krag om dit te oorkom."

'Suidooster' word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai.

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories