Nuwe dokumentêre-reeks oor die geskiedenis van Afrikaans

Nuwe dokumentêre-reeks oor die geskiedenis van Afrikaans

Almal wat Afrikaans praat, ken 'n storie oor waar hulle en die taal vandaan kom, maar die stories is so uiteenlopend soos die mense wat die taal geskep en gevorm het...

Ingrid Jones
Verskaf/ kykNET

Soos Ready D van Die Brasse Vannie Kaap dit stel: "Afrikaans is energie. Afrikaans is kwaai. Afrikaans is Khoi. Hy's Nederlands. Hy's Malei. Hy's mens. Afrikaans is die grond. Afrikaans is die stof, en Afrikaans is deel van wie ons is. Hy gaan nêrens nie."

Die nuwe dokumentêre reeks 'Die Stories van Afrikaans', wat op Sondag 27 April op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, vier en verken al hierdie aspekte in agt boeiende episodes. Met ryk argiefmateriaal en meer as honderd gesaghebbende stemme sny dié reeks die spore van die fassinerende ware verhale van die karakters, botsings, liefdes en langpaaie wat die taal deur vier eeue gebrei het en aan die Afrika-grond bind – van die smeltkroes aan die Kaap waar drie kontinente ontmoet het tot in die onstuimige hede waar daar ewe veel opgewondenheid as kommer rondom die taal is.

LEES: Rob Hersov: 'SA sal alles moet op meriete beoordeel'

Om hierdie groot legkaart te bou word die stukke bygevoeg wat in die afgelope paar dekades opgespoor, herontdek of soms vir die eerste keer erken is. Met tye is dit 'n inheemse Griekse tragedie maar dikwels ook 'n storie van koppige hoop, vasbyt, vreugde en vindingrykheid. En vervelig is dit nooit.

Elke episode het 'n eie verteller, wat insluit Sandra Prinsloo, Zane Meas, June van Merch, Albert Pretorius, Dean Balie, Frank Opperman, Lee-Ann van Rooi en Tinarie van Wyk Loots.

LEES: Pretoria-inwoners neem aksie teen slaggate

Die navorsing en inhoudsregie is deur twee bekroonde joernaliste behartig: Erns Grundling, wat ook 'n medevervaardiger van die reeks is, en die digter Danie Marais.

Twee gesoute taalkundiges, Hein Willemse en Wannie Carstens, het as onafhanklike konsultante opgetree. Carstens se twee lywige volumes, 'Die Storie van Afrikaans', is een van verskeie gesaghebbende bronne wat geraadpleeg is.

"Ek glo dié reeks gaan kykers plek-plek verstom met dinge wat hulle nie geweet het nie, en hulle soms laat sluk aan 'n knop in die keel. Maar daar’s baie humor ook en soveel kleurvolle karakters wat hul ervarings en insigte deel," sê Danie Marais.

"Een van die dinge wat die reeks wys, is hoe pyn, vooroordele en vrees mense en gemeenskappe vir die nood van ander blind kan maak. Dit is vir my die hartseerste deel van ons taalgeskiedenis, en ek hoop hierdie reeks gaan almal in ons groter taalgemeenskap aanmoedig om mekaar raak te sien."

LEES: Nadia Beukes gesels oor Ingrid Jonker produksie

Erns Grundling sê dis veral die vele tongvalle van Afrikaans wat in hierdie reeks opklink wat hom opgewonde maak. "Ons het die net wyd gegooi en wyd gereis, van Kaapstad tot in die Noorde, en ook in Nederland en België gaan draai. 

"Hierdie mylpaaljaar van Afrikaans se eeu as amptelike landstaal is 'n ideale geleentheid om bestek op te neem en 'n geskiedenis te heroorweeg wat veel verder as 'n 100 jaar strek. Daarom begin ons hierdie boeiende verhaal reeds in 1595. Ons mandaat was nie om enige oplossings aan te bied nie, maar om ook geen omstrede kwessies te verswyg of omseil nie. Ons wou doelbewus 'n eggokamer vermy en 'n kaleidoskopiese beeld van Afrikaans en sy sprekers gee. Wat ook al jy dink of glo, jy sal stemme in dié reeks vind met wie jy heelhartig kan saamstem en verskil."

LEES: Demi Lee Moore is swanger!

Waldimar Pelser, kanaaldirekteur vir premium kanale by MultiChoice, sê dit was vir kykNET noodsaaklik om te besin oor waar Afrikaans vandaan kom.

 "In Meimaand sal dit 100 jaar wees sedert Afrikaans, met sy ou wortels op meerdere vastelande, amptelike status as taal in die destydse Unie van Suid-Afrika gekry het. Ons wou vir ons kykers 'n ryk tapisserie vertoon van hoe dié taal geweef en geskep is, waar die invloede vandaan gekom het, en wat sy of haar sprekers oor dié pragtige taal sê, waarop so baie Suid-Afrikaners elke dag reken om ’n deel van hul identiteit uit te druk."

'Die Stories van Afrikaans' première op Sondag 27 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. 

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories