'Suidooster': Stormsterk-drama op pad met nuwe karakters en baie spanning

'Suidooster': Stormsterk-drama op pad met nuwe karakters en baie spanning

Donker onheilswolke pak in die komende weke oor Ruiterbosch saam, die fikitiewe woonbuurt waar die kykNET-sepie 'Suidooster' afspeel.

SUIDOOSTER HUIL 1
Verskaf/ kykNET

Die afgelope paar weke het daar sterk winde van veranderinge deur 'Suidooster' gewaai toe Marco Spaumer, wat die skarminkel 'Tim du Plooy' vertolk het, die sepie gegroet het en kykers 'n nuwe akteur, Daniel Coetzee as 'Riaan Vosloo', ontmoet het.

 Nou, met die koms van die Kaapse winter, word daar stormsterk-drama vir 'Suidooster' voorspel. 

LEES: 'Toks en Tjops'-aanbieder deel pragtige troufoto's

Volgens die sepie se publisiteitsbestuurder, Wilmer Müller, kan kykers 'n paar spannende storielyne verwag.

"Een van die kinkels wat aanhangers na hul sneesdoekies gaan laat gryp, is dat daar nuus is oor Ty Daniels (Maurice Paige). Hy het verdwyn nadat hy met 'n breingewas gediagnoseer is," sê Wilmer. 

LEES: "Dis vreemd om 'Suidooster' te groet" - Marco Spaumer groet na nege jaar

"Dit is besig om 'n groot tol op sy gesin te eis, want dit lyk of dié eens hegte gesin se fondasies besig is om in duie te stort."

Volgens Dean Smith, wat die rol van 'Ty' se broer 'Wade Daniels' vertolk, wag daar nog groot skokke op die Daniels-gesin. 

LEES: Oud-Springbok word weer pa op 74

"Nie net begin 'Carlo' (Jadon Booysen) rebelleer nie, maar 'Wade' en sy skoonsuster 'Lee-Ann' (Portia Joel) begin lelik vassit oor die pad vorentoe, tot waar hulle 'n onverwagte oproep kry wat hulle weer 'n bietjie hoop gee," sê Dean.

"Hierdie tonele was op 'n goeie manier uitdagend vir ons akteurs, want daar is soveel verskillende emosies wat in die storielyn aangewakker word, terwyl ander karaktereienskappe van 'Wade', 'Lee-Ann' en 'Carlo' vir die eerste keer na vore tree."

SUIDOOSTER KWAAD
Verskaf/ kykNET

Nóg 'n groot storielyn, wat pas begin het, betrek die geliefde 'Samsodien'-familie wat 'n nuwe krisis in die gesig staar, sê Wilmer.

Jawaahier Petersen se karakter, 'Kaashifa Samsodien', het pas 'n borsrekonstruksie ondergaan nadat sy borskanker oorwin het. Hoewel die operasie suksesvol was, verloor 'Kaashifa' haar reuk- en smaaksintuie.

LEES: Gewilde 'Vetkoekpaleis'-akteur opsoek na liefde

Jawaahier sê die newe-effekte wat 'Kaashifa' ondervind is "onverklaarbaar".

"Dit is geweldig frustrerend vir 'Kaashifa', wat 'n sjef is en in die proses is om 'n tweede restaurant oop te maak, om skielik nie te kan proe of ruik nie. 

"Sy begin oorhaastige besluite oor haar toekoms neem sonder om haar man, 'Rhafiek' (Irshaad Ally), daarin te ken. 

"Boonop blameer sy alles op 'Rhafiek', want sy voel dat hy te veel druk op haar geplaas het om die operasie te ondergaan, en dit lei tot spanning in hul huwelik," sê Jawaahier.

"Met die mat wat onder 'Kaashifa' uitgeruk word, ondergaan sy 'n tipe persoonlikheidsverandering en sien kykers 'n kant van haar wat hulle gaan stom slaan. 

LEES: 'Vetkoekpaleis'-akteur deel opwindende babanuus

"Tog moet 'n mens onthou dat 'Kaashifa' eintlik al deur baie trauma en hartseer in haar lewe is, en dalk nog nooit werklik alles verwerk het nie," verduidelik Jawaahier. 

'n Ander opwindende storielyn wat later in Junie afskop en kykers lekker warm onder die boordjie gaan hê, handel oor 'n nuwe glyjakkals. 

"Donovan Pietersen, wat kykNET-kykers sal herken vir sy rolle in 'Spoorloos: Steynhof' en 'Getroud met Rugby', gaan nou as Texas Kannemeyer moles in 'Suidooster' maak," sê Wilmer. 

"Texas gaan dadelik 'n opskudding in Ruiterbosch veroorsaak wanneer hy 'n nuwe onderneming in die Suidooster-sentrum op die been wil bring. 

"Maar die vraag is of sy vuil wasgoed betyds uitgehang gaan word?" 

'Suidooster' saai Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET & kie uit. Dit is ook beskikbaar op Catch-Up, DStv Stream en Showmax

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories