"Elke moeder moet besef hoe absoluut noodsaaklik sy is" - '7de Laan' se Quinne Brown
Updated | By Dean Paulse
Elke moeder verdien om gevier te word - ongeag hoe oud of jonk meen die '7de Laan' aktrise.
"Moedersdag is ‘n dag om moederskap en die waarde daarvan te vier en te eer," so voel '7de Laan' se Quinne Brown oor Moedersdag.
Sedert die begin van '7de Laan' het Quinne Brown of beter bekend as 'Connie' duisende Suid-Afrikaners vermaak in die SABC-reeks. Sy is nie net 'n talentvolle aktrise nie, maar is ook 'n ma van twee dogtertjies.
Jacaranda FM se Dean Paulse het met haar gesels oor die uitdagings, lesse, en lekkerte van moederskap.
Hoekom moet ons Moedersdag vier?
Lewe begin deur en by Moeders. Soms wil ek vra wanneer het ons dit vergeet. Die waarde van menswees word deur mammas bevestig en uitgebeeld. Ek dink ons samelewing moet herinner word van die waarde van hierdie rol. Dis ook net lekker om ‘n vrou te bederf, en om mekaar geliefd, en belangrik te laat voel.
Hoe het jou lewe verander nadat jy ma geword het?
Heeltemal. Ek het werklik wakker geskrik met my kinders se koms. Met hulle in my lewe lyk en proe en voel die wereld anders en vars. Ek is van myself verlos en tog voel die bewuswording van myself vir die eerste keer eg. Ek het besef hoe kragtig en bemag ek tog is. Vir my kinders is enige iets moontlik.
View this post on InstagramA post shared by Quinne Brown (@quinnebrown) on
Hoe vier jy Moedersdag die jaar (in lockdown)?
Ek het eintlik geen idee nie! Gewoonlik is daar mooi blomme en chocolate wat my inwag, Champagne en sommer in die oomblik dans partytjies saam my kinders om die tafel.
‘n Spesifieke deel van my Moedersdag die laaste paar jaar word saam met Embrace spandeer by ‘n hospitaal se maternity ward. Die organisasie het die wonderlike inisiatief geskep, MOTHERSDAY CONNECT. Ons was een jaar Barra toe en laas jaar by Tembisa. Met ‘n cupcake of klein persentjie gaan besoek ons die nuwe mammas wat dalk niemand anders het nie. Die gedagte is om hulle te herinner dat hulle nie alleen is nie en hulle te verwelkom in die moederskap tribe. Dis heerlik en verrykend. ‘n Wonderlike voorreg om nuwe mammas en babas te kan ontmoet en spesiaal te laat voel.
Hierdie jaar kan ons natuurlik nie, en probeer ons op die interweb met hulle te kommunikeer. Ek het my doula-chats op instagram begin om soveel informasie moontlik te deel met nuwe ouers en die vieslike vrees wat kan toeslaan, teen te gaan.
Ek is net dankbaar vir die nabyheid van my kinders en man en vir die lekkerte van saam wees.
Wat is die grootste les wat jy geleer het as ma?
Dat ons elkeen se proses en manier werklik uniek is en baie geduld dan daarmee saam.
Wat is die grootste les wat jy by jou ma geleer het?
Sy het deur haar voorbeeld vir ons geleer wat dit is om onvoorwaardelike liefde te leef. Die spasie wat sy met soveel grasie en skoonheid skep waar ons elkeen presies kan wees wie ons is, is ‘n gawe wat ek nog leer beoefen.
View this post on InstagramA post shared by 7de laan (@real7delaan) on
Wat is die mooiste deel van ma-wees, asook die moeilikste deel?
Die voorreg om ‘n ander mens se getuie te kan wees, so intiem te kan waarneem en te ken. Om deel te vorm van hom of haar se pad, dis ongelooflik. Ek staan verstom vir die warboel van gevoelens en oomblikke van genot, daar is nie ‘n vaag oomblik ooit nie. Dat die dae konstant gevul is. Dis ‘n voorreg om ma te kan wees en dis werklik een van die beste ervaringe wat nooit ophou om die dae met die werklikheid van wat moontlik is te vul nie. Kinders dra hoop, hulle leef met aanhoudende geloof en hulle vergewe en sien my waarheid. Daar is nie weg kruip plek nie. En dis beter so.
Dis dan ook wat die uitdaging is, want ons almal het ‘n donkerkant en om dit te verduidelik en met verantwoordelikheid te kan herkenning gee is nie maklik nie. Om ons kwesbaarheid te wys, is om vir ons kinders te leer dat dit ook okay om kwaad, hartseer, jaloers, minderwaardig, of plyn sleg te voel. Dat mens van dit ook herstel, maar ai ons wil almal iemand se hero wees…
En nou; homeschooling. Dit kan tot nou een van my grootste uitdagings wees!
Wat is jou boodskap vir ma’s?
Elke moeder moet besef hoe absoluut noodsaaklik sy is. Sonder ons ma’s as ons bewaarders en hulle absolute herkenning van ons unieke menswees is dit moeilik om op die ontdekkingreis te gaan en die kreatiewe te vind. Dankietog vir moederlike instinkte en vir die diep wete wat hulle saam dra. Mag ons dit van voor af begin vertrou. Uiteindelik is dit hulle, wie die wat honger is, kos gee.
Show's Stories
-
Reynardt Hugo: 'Jan Bloukaas het my lewe heeltemal verander'
Na 'n tweejaar stryd teen kanker is die musikant Jan Bloukaas na sy "hem...
The Drive with Rob & Roz 7 hours ago -
Video: What really happens to your body under anaesthesia?
If you thought you were just sleeping, you would be wrong...
The Drive with Rob & Roz 7 hours ago