'Kokkedoor' trek 'n nuwe voorskoot aan met mooie Yolani
Updated | By Jacaranda FM
Vir die tiende seisoen van kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks 'Kokkedoor', trek die program nie net 'n ander voorskoot aan nie, maar kry dit ook twee nuwe beoordelaars.

In sy volgende gedaante gaan die reeks as 'Kokkedoor: Son & See' bekend staan, terwyl die koskenners Herman Lensing (37) en Yolani Abrahams (32) gaan besluit watter deelnemers koning kraai.
kykNET soek nou na deelnemers vir die reeks, wat in November en Desember 'n hoofgereg op die kykNET-spyskaart gaan wees.
'Kokkedoor: Son & See' is die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie, waarvan die huidige reeks, 'Kokkedoor: Vuur & Vlam', tans op kykNET uitgesaai word. Buiten 'Kokkedoor', wat in 2012 vir die eerste keer voorgesit is, en Kokkedoor: Vuur & vlam, was daar ook 'Koekedoor', 'Kokkedoortjie' en 'Koekedoortjie'.
Volgens 'Kokkedoor' se publisiteitsbestuurder, Wilmer Müller, is daar ’n paar unieke bestanddele vir 'Kokkedoor: Son & See' wat dit van die vorige reekse onderskei.
"Mense moet as 'n span van twee familielede inskryf en daar moet boonop 'n generasiegaping van ten minste 20 jaar tussen die twee spanlede wees," sê hy.
"Dit kan byvoorbeeld 'n ouma en 'n kleindogter, 'n ma en seun, skoonsusters of niggies en neefs wees – solank daar 'n tipe familieverband is en die jongste spanlid ten minste 18 jaar oud is.
"Nog 'n verskil is dat daar vir 'Kokkedoor: Son & See' net na huiskokke gesoek word en dat daar nie deelnemers met 'n kwalifikasie as professionele sjef gaan wees nie.
"Die rede hiervoor is dat 'Kokkedoor: Son & See' die kollig wil laat val op die nostalgiese rol wat kosmaak in 'n familieverband speel en die manier waarop dit soos 'n goue draad tussen die verskillende generasies loop."

Die nuwe aanbieders het geen bekendstelling nodig nie, en beide het al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap. Herman en Yolani spog nie net albei met sjefskwalifikasies nie, maar het ook beide reeds in talle kook- en leefstylprogramme op die kassie hul verskyning gemaak.
Volgens Yolani, wat ook 'n restaurateur is en in 2017 as die wenner van SARIE se voorbladgesigkompetisie aangewys is, wou sy nog altyd haar kosvernuf in die media deel.

"Dis beslis nie aldag dat so 'n geleentheid oor jou pad kom nie, en ek gryp dit met albei hande – en sommer ook met my voete – aan," sê sy.
"Ek wil 'n sukses daarvan maak, en bowenal wil ek dit geniet. Wie weet, dalk leer ek self ook 'n ding of twee in die proses."
Herman, wat met talle topverkoperboeke op sy kerfstok spog en onlangs as Netwerk24 se smaakmaker van die jaar aangewys is, sê hy droom al vanaf 2013 daarvan om 'n 'Kokkedoor'-beoordelaar te wees.
"Om nou deel te wees van die tiende seisoen van die reeks en al sy handelsmerke is regtig 'n eer," sê hy.
“Ek sien dit as ’n groot taak wat op my skouers rus om daardie intieme geskenk wat jy en jou spanmaat met my kom deel, met respek te hanteer.
"Ja, ek gaan eerlik wees met my terugvoer, maar ek belowe ek is so lief vir kos dat jy nooit gaan wegstap en minder werd voel in die kombuis nie."
Wat jy alles moet weet om in te skryf:
- Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ’n e-pos na [email protected].
- Sluitingsdatum vir inskrywings is 30 April 2025.
- Die jongste lid van die span moet ten minste 18 jaar oud wees en die generasie- en ouderdomsverskil tussen die spanlede moet ten minste 20 jaar wees.
- Daar móét 'n familieverwantskap wees, soos ’n ouer of stiefouer, oupa, ouma, skoonfamilie, ooms, tannies, niggies of neefs.
- Oudisies sal in Kaapstad gehou word tussen 5 en 9 Mei 2025.
- Verfilming is van 20 Junie tot 3 Julie 2025 in Struisbaai.
Luister na Jacaranda FM:
- 94.2
- Jacaranda FM App
- http://jacarandafm.com
- DStv 858/ OpenView 602
Volg ons op sosiale media:
Meer Op Jacaranda FM
Show's Stories
-
WATCH: The best cookie dunking and drink combination
Is there a perfect duo that works better than any other?
The Drive with Rob & Roz 10 hours ago -
WATCH: Nine-year-old Thai tattooist makes his mark
Wielding a cumbersome tattoo gun with his small hands swamped in surgica...
The Drive with Rob & Roz 11 hours ago