KYK: Ontmoet die ses vroue van 'Die Real Housewives van Pretoria'
Updated | By Jacaranda FM
Ses formidabele vroue, ses unieke persoonlikhede, ses suksesvolle besighede en ses stories wat jou sal laat regop sit. kykNET kan uiteindelik die ses vroue van 'Die Real Housewives van Pretoria' bekendmaak.
Vanaf 13 Oktober wys Renske Lammerding, Marié Bosman, Talana Kuhn, Kiki La Coco, Mel Viljoen en Rhona Erasmus presies vir jou wat dit vat om in hulle hoëhakskoene te loop.
Luukse voertuie, herehuise, eksotiese vakansies en heftige argumente is van die goed wat kykers sal laat sukkel om hulle eie oë te glo.
Hier is ’n paar interessante feite om jou behoorlik nuuskierig te maak:
Renske Lammerding
Renske is welbekend in Silver Lakes vir haar boetiek in die estate en natuurlik haar man, Heinrich, se welvaart. Dit beteken egter ook dat daar heelwat oor Renske-hulle geskinder word. Maar is daar enige waarheid daarin en skinder sy self? Beslis nie, as jy Renske vra. Renske is die eienaar van die Mrs Globe-skoonheidskompetisie en wil graag daarmee ander vroue help om hulself te bemagtig.
Marié Bosman
Marié is ’n onkonvensionele pastoor wat baie uitgesproke is. Sy het ook ’n vlieglisensie en twee doktorsgrade. Ná haar twee egskeidings het Marié besluit dat sy nooit weer haarself vir enigiemand sal probeer verander nie en is daarom nie een wat haar aan onbenullighede steur nie – dit verveel haar net.
Talana Kuhn
Talana is ’n 27-jarige sakevrou wat die eienaar is van Earth DK en Millennial Marketing. Sy is ook die mamma van ’n driejarige en is tans swanger met haar en haar ouditeurman, Walter, se tweede kind. Talana het tussendeur sommer ook ’n selfhelpjoernaal geskryf wat binnekort gepubliseer word. Sy kan nie mense hanteer wat dink hulle is beter as sy nie – sy het deur die vuur geloop om te kom waar sy vandag is.
Kiki La Coco
Kiki is ’n inhoudskepper op TikTok waarvoor sy allerhande dans- en “lip-sync”-video’s maak. Sy het tans ongeveer 390 000 volgelinge op haar bladsy. Haar man, die multimiljoenêr Malcolm Wentzel, en hule huishulp, Thembi Ubisi, het byna 860 000 volgelinge wat hulle manewales dophou. Kiki-hulle woon in Mpumalanga en met hulle kinders wat op skool is in Pretoria, wil hulle nou na die hoofstad verhuis.
Mel Viljoen
Mel het haar pad opgewerk vanaf haar dae as plaaskind tot die president van Tammy Taylor Nails Suid-Afrika, een van die mees suksesvolle konsessies in die Suid-Afrikaanse skoonheidsbedryf. Mel is getroud met die bekende en berugte prokureur Peet Viljoen wat deesdae die hoof- uitvoerende beampte van Tammy Taylor Nails is. Hulle het heelwat bekende kliënte insluitend Somizi, Pearl Thusi, DJ Zinhle en Lerato Kganyago.
Rhona Erasmus
Rhona het op tienjarige ouderdom saam met haar gesin vanaf Meyerton na Pretoria verhuis. Sy is deesdae die eienaar van twee ondernemings, Trouvaille Boutique Day Spa en Midstream College Baby House in Midstream Estate, waar sy en haar gesin ook woonagtig is. Rhona was destyds Heinrich en Renske se au pair en het met hulle hulp haar eerste besigheid (Midstream College Baby House) begin. Rhona glo vas dat jy nie dinge agter iemand se rug moet sê nie. Daarom vertel sy jou graag in jou gesig wat sy van jou dink.
Skakel vanaf 13 Oktober 2022 om 20:00 elke Donderdagaand in op kykNET (DStv-kanaal 144) om dié ses vroue se streke dop te hou.
Show's Stories
-
Woman faces cyberbullying after falling for fake Brad Pitt
A French woman who revealed on TV how she had lost her life savings to s...
The Drive with Rob & Roz 7 hours ago -
The world’s 30 Best Places to Work for 2024 revealed
The highly anticipated Best Places to Work World Rankings for 2024 have ...
The Drive with Rob & Roz 9 hours ago