Oud Jacaranda FM-aanbieder gesels oor kankerstryd

Oud Jacaranda FM-aanbieder gesels oor kankerstryd

Radio-aanbieder, Darren Scott, het onlangs oor sy stryd teen kanker gesels, asook oor sy tyd by Jacaranda FM en hoe Good Morning Angels steeds mense se lewens verander. 

Darren Scott
Verskaf/ kykNET

Die emosie het met tye hoog geloop toe Rian van Heerden die radio-legende Darren Scott as sy gas op 'Laataand by Rian' gehad het.

LEES: 'Mommy Club' se Ansu Viljoen: 'Niemand is perfek is nie'

Darren Scott is reeds in 1986 die eerste keer met velkanker gediagnoseer. Intussen het die kanker weer en weer teruggekom, en is daar, onder meer, melanome naby sy longe wat asemnood kan veroorsaak.

"Die kanker het maatjies gebring," het hy aan Rian gesê.

Darren se eksvrou, Sarah-Kate Accetta, en sy twee seuns, Mark en Matthew, woon in Amerika. 

Sarah-Kate het skarebefondsing begin sodat die immunoterapie wat Darren ondergaan, betaal kan word. 

LEES: Nuwe dokumentêre-reeks oor die geskiedenis van Afrikaans

Darren het vertel die behandeling is elke drie weke en kos R80,000 per behandeling. Immunoterapie het gegaan van eksperimenteel tot peperduur, sê hy, maar daar is al hoe meer suksesverhale van pasiënte wat fase 4-kanker gehad het en dan in remissie gaan.

In antwoord op Rian se vraag oor hoe dit werklik met hom gaan, het hy erken dit gaan met tye rof. Darren het emosioneel geraak toe hy van sy seuns en sy pa, Harry, wat ook in Amerika woon, gepraat het.

"Ek is terug in Suid-Afrika omdat ek moet werk sodat ek vir die behandeling kan betaal," het hy gesê. 

"Maar as ek nie kan praat nie, kan ek nie werk nie."

Hy het vertel van die fonds wat gestig is toe sy seun Mark as eenjarige met kanker gediagnoseer is en hoe dit ook ander gehelp het. Maar hy sê hy haat dit om vir mense vir geld te vra, en daarom is hierdie pad wat hy nou moet loop ekstra moeilik.

Darren het egter beleef hoe sy aandeel in liefdadigheid ander gehelp het toe die twee gaste vir die aand ingestap het: Helen Smit en Tristan, haar seun. 

LEES: Heinz Winckler gesels oor seksuele oriëntasies en die Bybel

Tristan was twee jaar oud toe Jacaranda FM se Good Morning Angels geld ingesamel het sodat hy Amerika toe kon gaan vir behandeling teen breinkanker. 

"Ek kan die naam en storie goed onthou," het hy gesê.

Vandag is hy 'n opgeskote jong man wat al twee Kaapstad-fietstoere (voorheen die Argus-fietstoer) agter die blad het.

"The power of radio," het 'n emosionele Darren gesê.

'Laataand by Rian' word op Dinsdae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories