'Villa Rosa'-ster maak amok in 'Suidooster'

'Villa Rosa'-ster maak amok in 'Suidooster'

Die aktrise Elsje Slabbert, alom bekend om haar rol as 'Carina Rautenbach' in die kykNET-sepie 'Villa Rosa', is tans in die kykNET-sepie 'Suidooster' as 'Lisa van Staden' te sien.

Suidooster Elsje Slabbert
Verskaf/ kykNET

1. Wat maak Lisa van Staden in Ruiterbosch?

"Lisa beland in Ruiterbosch as 'n besigheidsvrou. Sy's 'n mediese verteenwoordiger vir 'n farmaseutiese maatskappy wat probeer om hul produkte op die apteek in Ruiterbosch en se rakke te kry. Maar dis nie die enigste rede nie... Buiten die feit dat Aiden (Theo Jantjies) halsoorkop vir Lisa val, gaan die poppe dans..."

LEES: Die legendariese Dozi deel reis na gesonder lewe

2. Hoe sal jy Lisa beskryf, en wat hou jy van haar?

"Sy het 'n sterk persoonlikheid, sy's vreesloos en sy sal berge versit vir die mense vir wie sy lief is. Lisa is einddoelgerig in haar lewe en kan manipulerend wees as sy voel dis nodig om by daardie einddoel te bereik. Verder is Lisa baie bang vir verwerping en ek dink sy sal enigiets doen om dit te vermy."

3. Dis die eerste keer in sowat sewe jaar wat jy weer in 'n sepie speel sedert 'Getroud met Rugby'. Hoe was dit vir jou om terug op 'n sepiestel te wees?

"Dis soos fietsry en ek bedoel nie [dis] maklik nie! Gaan klim maar na jare op 'n fiets... dit is moeiliker as wat 'n mens dink en dit vat so 'n oomblik voor jy weer jou balans kry en jou selfvertroue vind.

"Die eerste twee dae op stel was lekker moeilik. Die vlinders in my maag was heeltemal buite beheer en ek het gesukkel om my balans te hou. Maar gelukkig, vanaf dag drie op stel het ek, voel ek, my balans gevind. Ja, en ek het elke oomblik geniet."

LEES: Minister Gayton McKenzie sing bekende Laurika Rauch lied

4. Wat geniet jy daarvan om in 'n sepie te speel?

"Ek hou van die spoed. Hoe meer tonele per dag, hoe beter. Dis vir my 'n lekker uitdaging. Mens hoef ook nooit te wag vir die wolke om weg te gaan of die vliegtuig om eers verby te kom nie. So, dis lekker!" 

5. Jou rol in 'Villa Rosa' was vir jou ’n groot deurbraak. Wat het 'Villa Rosa' vir jou loopbaan beteken en wat is jou gunsteling herinnering aan 'Villa Rosa'?

"Ja, dit sal altyd baie na aan my hart bly. Ons was ’n gehegte groep mense en van ons is vandag nog deel van mekaar se lewens, al is dit net om memes te stuur op Instagram. 

"My gunsteling-herinnering is ons groepstonele waar jou klere te styf sit en jou skoene druk en almal wil huis toe gaan, maar ons is vol grappies dat ons sukkel om te fokus en die regisseurs ongeduldig raak... Ek dink die onderdrukte lag dat die trane loop want ons is in die moeilikheid. Dit sal ek altyd na aan die hart hou.

"Ja, 'Villa Rosa' het my 'n voet in die deur gegee. Dit het my kans gegee om bietjie op die rooi tapyt te loop, saam met mense te werk wat ek van kindsdae af admireer."

LEES: Eienaar van verlore diamant-trouring gevind

6. Jou seuntjie Rubin is nou vier jaar oud. Ook jy het ’n dogtertjie, reg? (Naam en ouderdom?) Wat geniet jy van ma-wees?

"Rubin word in Oktober vier en my dogtertjie haar naam is Milan – sy's nou een jaar oud.

"Ek dink wanneer 'n mens ma word, verander jou lewe soveel meer as wat jy ooit sou dink. Dis die moeilikste en belangrikste rol van my lewe waar jy elke dag ge-challenge word. Ek het nie 'n gym nodig nie, nie met 'n vierjarige seuntjie nie. 

"Wat ek die meeste geniet daarvan is die feit dat ek nie meer die belangrikste mens in my lewe is nie en oor dit maak mens jouself los van kleinlighede wat jou dalk in die verlede gepla het.

"Ja, om 'n klein mensie te hê wat vir jou kyk en vir jou glimlag en jou "mamma" noem, en jy weet dis joune... dis iets onbeskryflik groot en hulle leer jou rêrig wat onvoorwaardelike liefde is."

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

More From Jacaranda FM


Show's Stories