KYK: 'Boer Soek 'n Vrou' se Lulani raak verloof

KYK: 'Boer Soek 'n Vrou' se Lulani raak verloof

'Boer Soek ’n Vrou' se Lulani Vermeulen het uiteindelik die liefde van haar lewe ontmoet, en nou gaan sy en Bianca trou!

Lulani Boer Soek 'n Vrou
Verskaf

Vanjaar was die 16de seisoen van die gewilde maatsoekprogram 'Boer Soek 'n Vrou' op die kassie. 

Een van hierdie jaar se boere was Lulani Vermeulen, ’n bees- en skaapboer van Philippolis in die Vrystaat.

Boer Lulani het ongelukkig nie liefde op die program, waarvan die laaste episode in Oktober uitgesaai is, gevind nie, maar dit was alles vir die beste.

Kort na haar tyd op 'Boer Soek' ’n Vrou het Vermeulen die liefde van haar lewe, Bianca, ontmoet, en nou is die paartjie verloof.

LULANI_BIANCA_VERLOWING
Verskaf

Volgens Sarie tydskrif is Lulani en Bianca al reeds nege maande saam.

"Bianca het amptelik plaas toe getrek, hoewel ons eintlik nog net op die pad was vandat sy by haar werk klaargemaak het. Ons kuier op die oomblik by my pa-hulle by die see," het Vermeulen gesê.

LUISTER: Bobby sing oor die pyn van sy egskeiding

Lulani het aan Sarie vertel dat sy baie vinnig geweet het dat sy met Bianca wil trou.

"Toe ek haar die eerste keer gesien het, het ek al gedink sy is baie mooi. En toe gesels ons baie lekker. Later, toe ons mekaar beter leer ken, het ek die kwaliteite wat vir my belangrik is, gesien by haar en geweet ek wil met haar trou."

"Geen topic moet taboe wees nie. En 'n mens moet praat. Geen twee mense gaan oor als saamstem of dieselfde dink oor dinge nie, so 'n mens moet praat. Dan figure ons dinge saam uit soos ons gaan."

"Ons albei commit tot die gesprekke en ons praat dinge deur en vind saam 'n goue middeweg. Ons werk sag met mekaar en ons is baie lief vir mekaar. Ons maak 'n punt daarvan om dit te sê en te wys. En ons groei saam. Ek kan te veel wees vir mense, maar vir Bianca is ek reg. En dit was vir my baie belangrik."

LULANI_AND_BIANCA_NA_VERLOWING
Verskaf

Nege maande nadat hulle bymekaar gekom het, het Lulani besluit dit is tyd om die "ja"-woord te vra, maar sy moes eers 'n plan beraam oor hoe.

"Die weer in die Kaap is mos onvoorspelbaar, en dit speel 'n rol as jy van buite wees hou."

Plan A was glo om vir Bianca te vra om te trou op 'n stil plekkie êrens op Tafelberg met 'n mooi uitsig.

"Toe reën dit en is die berg nie meer 'n opsie nie..."

Plan B was sjampanje op 'n seiljag.

"Ons het op die boot gegaan, maar die see was so rof ek was benoud Bianca of die ring beland daarin, want ons moes met beide hande vashou!"

Selfs plan C, wat 'n stil plekkie op 'n strand iewers was, het nie uitgewerk nie.

Uiteindelik het Lulani se sussie vir haar vertel van 'n Scratch Patch (plek waar ’n mens klippies optel) waar hulle gaan, en daar het sy die vraag gevra.

KYK: Demi Lee Moore vier 35ste verjaarsdag in styl

"Ek het vir Bianca gesê ons moet 'n memory klippie gaan optel om die dag saam te onthou. Sy was nie beïndruk met die eerste paar klippies wat ek gekies het nie, so toe het ek die ring skelm uitgehaal... Ek was reeds op my knie, toe vra ek wat sy dink van die klippie."

"Sy het dit glad nie verwag nie, maar darem toe tussen die lag deur ook 'ja' gesê. En seker nog 'n uur daarna gelag."

"Ons sal iewers in volgende jaar trou. Ons besluit nog waar, maar stem saam dat dit by die see moet wees. Ons gaan die vakansie na 'n paar plekke kyk. Ons wil ’n lekker gemaklike troue hê waar almal net lekker saam kuier en celebrate. So, die opwinding van beplanning begin nou!"

Skakel in op 'Breakfast with Martin Bester', weeksdae van 06:00-09: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

FOTO: kykNET/ Verskaf

MORE FROM JACARANDA FM


Show's Stories