KYK: Michelle Botes te sien in laaste reeks op Netflix

KYK: Michelle Botes te sien in laaste reeks op Netflix

Die beeldskone aktrise Michelle Botes is op 21 Desember, 2024 oorlede ná 'n lang stryd teen kanker.

Michelle Botes 2024
Bruis Tydskrif

Die geliefde Michelle Botes is op die ouderdom van 63 oorlede ná haar stryd teen myeloom, 'n kanker wat die beenmurg aantas.

Voor haar afsterwe het die ikoon aan nog 'n laaste TV-reeks gewerk, en aanhangers sal haar nou vir die laaste keer op die kassie kan sien.

Botes se laaste reeks, 'Tuiskoms,' 'n sewe-episode Afrikaanse-reeks, sal in Februarie op Netflix vrygestel word.

"Dit was die laaste program wat sy opgeneem het; dit is omstreeks Maart verlede jaar verfilm," het Suzi Howes van Oh! Talent Management, Botes se bestuur, aan The Citizen gesê.

LEES: Bobby van Jaarsveld deel opwindende nuus oor nuwe avontuur

Howes het verduidelik dat Botes gedurende die jaar aan sommige TV-advertensies gewerk het, maar 'Tuiskoms' was die laaste reeks waaraan sy deelgeneem het.

'Tuiskoms' volg die lewe van 'n weduwee-sjef wat haar restaurant en huis oornag verloor. Sy moet saam met haar dogter terugkeer na haar ma se huis in Wilderness.

In dié nuwe dorp word sy uiteindelik van haar man se dood bevry en vind sy weer liefde.

Botes vertolk die rol van die hoofkarakter se ma, terwyl die aktrise Amalia Uys die hoofrol speel.

Kyk die lokprent hier:

Meer oor Michelle Botes

Michelle Botes, 63, is een van Suid-Afrika se mees geliefde aktrises - met talle toekennings en rolle agter haar naam.

'Die Swart Kat', 'Beelde', 'Arende', Konings' - noem dit en Michelle Botes het al haar verskyning gemaak.  

Die aktrise is veral bekend vir haar feeks-rol in 'Isidingo' - as 'Cherel de Villiers-le Roux-Haines-Holmes'. 

Haar rol as 'Cherel' het haar talle toekenings verdien, onder andere vir Beste Aktrise in 'n Sepie.

Die rol was "uitputtend" en sy moes eers vir 'n ruk stil word. 

LEES: Hier is Nataniël se beste mode-raad vir mans en vroue

"Ek was uitgebrand. Ek moes my lewe verander. Op daardie statium het ek die rol vertolk van 'Cherel' - en sy was 'n t**f," het sy in 2020 aan Jacaranda FM genoem. 

Botes was ook te sien in die M-Net telenovelle, 'Legacy'. 

"Dit is my eerste telenovelle. Dit is vinnig en dit is so pret. Ons weet nie wat is die eindproduk nie - dit is net só anders. My karakter is baie dramaties, wild."

Botes is Saterdagoggend, 21 Desember 2024, aan kanker oorlede. 

Die hartseer nuus is deur Bruis Tydskrif bevestig.

In haar laaste onderhoud wat sy enkele weke gelede met Bruis Tydskrif gedoen het, het sy openhartig vertel van haar stryd die afgelope twee en 'n half jaar met gevorderde veelvuldige myeloom, ’n seldsame, ongeneeslike soort bloedkanker wat die beenmurg affekteer.

Sy het sedert haar kankerdiagnose in Julie 2022 by haar seun, Daniel, en sy vrou, Nolene, in Observatory, Kaapstad, gewoon. Sy is aanvanklik met chemoterapie en steroïede behandel en het later 'n stamseloorplanting gekry, maar wou nie met dié behandeling voortgaan nie.

"Ek het nie kans gesien om weer so verskriklik sleg te voel en nie myself te wees nie," het sy aan Bruis Tydskrif gesê.

Skakel in op 'Breakfast with Martin Bester', weeksdae van 06:00-09: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

FOTO: Bruis Tydskrif

MEER OP JACARANDA FM


Show's Stories