Sanger Appel deel gru-aanval op skoonpa

Sanger Appel deel gru-aanval op skoonpa

Die gewilde sanger Appel het foto’s op sosiale media gedeel nadat sy skoonpa, Deon, Saterdag wreed aangeval is.

APPEL_SKOONPA_AANVAL
Facebook/ Appel

Die geliefde Suid-Afrikaanse sanger Appel het onlangs 'n dringende versoek aan sy aanhangers gerig vir hulp nadat sy skoonpa, Deon (63), op Saterdag, 22 Maart, in Zambezi, Pretoria wreed aangeval is.

Appel het sy aanhangers gevra om sy plasing wyd te deel en om die familie te help om die aanvaller op te spoor.

In sy Facebook-plasing het die 'Nonna'-sanger verduidelik dat Deon en sy vriende ná 'n doeke-braai op pad was na Hennie's in Zambezi.

'n Silwer Nissan Navara-bakkie het toe agter Deon se voertuig ingeval en, glo sonder enige rede, het die bestuurder drie skote geskiet.

LEES: Só het Demi Lee Moore en haar man ontmoet...

"Deon se vriend, Wentzel, het verbygejaag en geskree dat die man op hulle skiet," het Appel geskryf.

"Die Navara het langs Deon ingetrek, sy voertuig van die bestuurderskant gestamp, en die bestuurder het vir Deon met ’n vuurwapen in die gesig geslaan."

Deon het gelukkig weggejaag, alhoewel die bestuurder steeds met die aanval probeer voortgaan het.

Volgens Appel is sy skoonpa lewendig, maar ernstig beseer en in skok.

In 'n opvolgplasing het die sanger ook meer oor Deon se toestand gedeel:

"Hy is tans in die hospitaal opgeneem. Die bloeding in sy gesig het ’n omvangryke hematoom veroorsaak, en daar is ook bloeding onder die veloppervlak wat ’n infeksie kan veroorsaak. Ons wag tans vir verdere spesialisbehandeling en monitor hom noukeurig."

Appel het ook die Sinoville-polisie bedank vir hulle "uitsonderlike" werk in verband met die saak.

"Ek wil opreg my dank en waardering uitspreek aan die Sinoville-polisiekantoor, spesifiek kolonel De Jager. Sy optrede is niks minder as uitsonderlik nie. Hy tree met erns, vinnigheid en professionaliteit op. 'n Ware yster van 'n man."

KYK: Ruhan du Toit laat trane rol met 'Kinders van die Wind'

Vir diegene wat wonder of Deon moontlik iets gedoen het om die situasie te veroorsaak, het Appel dit duidelik gemaak:

"Daar was geen kroeggeveg of enige vorm van konfrontasie nie. My skoonpa is 'n vredeliewende, kalm mens. Hy dra geen haat nie, soek nooit konflik nie, en is nie aggressief van aard nie. Hierdie aanvaller was iemand met ’n kort lont, en my skoonpa het hom ongelukkig in sy spervuur bevind."

Appel het sy aanhangers gevra om op die volgende maniere te help:

  1. As jy enige kontak het by Hennie’s of Jan se Skuld, vra asseblief of hulle hul kamera-beeldmateriaal kan nagaan van net ná 12-uur Saterdagaand.
  2. Bakwena-tolhekpersoneel of enige iemand wat kan help met beeldmateriaal van Zambezi Ramp South-tolhek omstreeks 00:20 – julle hulp sal ongelooflik waardeer word.
  3. Enige sekuriteitsmaatskappye, kamera-beeldmateriaal van die Atterbury-omgewing of mense wat iets gesien het – kontak ons asseblief.
  4. Deel hierdie boodskap so wyd as moontlik. Iemand móét daardie Navara herken!

Skakel in op 'Breakfast with Martin Bester', weeksdae van 06:00-09: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

FOTO: Facebook/ Appel

MEER OP JACARANDA FM


Show's Stories